Trein verpas.

Vroeer jare het al die Pietersburgers trein gery na en van Petoorsdorp. So gebeur dit dat 'n predikantsvrou een aand Noordwaarts tot op Pietersburg moet ry (haar naam verswyg ons liewer). Die trein gaan iewers in die loop van die nag op die stasie aankom en dan weer verder ry. Sy is doodbang dat sy gaan verslaap en reel met die kondukteur om haar op Potgietersrus (die dorp voor Pietersburg) wakker te maak sodat sy darem tyd het om uit haar nagklere te kom.

Op 'n stadium word sy wakker en besef dat die trein staan. Sy loer by die venster uit en sien die perron - en watter stasie se naam staan in groot letters daar? Pietersburg - en sy nog in haar nagkebaai! Nou moet sy vinnig plan maak, anders vertrek die trein met haar nog daarop. Sy steek haar kop by die venster uit en gil kliphard "Haai, hoei daar. Net so 'n oomblikkie. Ek is nou-nou klaar." Die mense op die perron gaap haar verbaas aan, maar dis nou groot krisis. Vervaard begin sy uit- en aantrek en kort-kort "Haai, hoei, net so 'n oomblikkie" sy deur die venster, doodbenoud dat die trein weer gaan vertrek.

Uiteindelik is sy klaar en val letterlik holderstebolder by die treinwa uit. Die mense skater soos hulle lag, en sy kan hoegenaamd nie verstaan hoe hulle so onchristelik kan optree in haar oomblik van groot nood nie, totdat sy omdraai. Daar staan die treinwa alleen op die spoor. Van die res van die trein is daar geen spoor nie. Treinwa is afgehaak en die trein het lankal reeds vertrek.

Terug na kiesblad