DIE BALLONVAART - Winston vertel:

As kind vang mens mos allerhande dinge aan. Party van die goed sou jou dese dae opslag in die tronk gekry het. Party onthou jy, ander vergeet jy. Party is 'Geklassifiseerde Inligting'. Ander kan jy maar oorvertel.

Jy weet, as mens 'n ballon lekker styffffff opblaas, en jy knyp sy nekkie met altwee hande so tussen duime en wysvingers vas, en jy trek die nekkie dat hy so styf span, dan kom daar mos 'n geluid uit wat meer klink soos 'n baba wat oorvoer is aan boontjies en uie. Ek hoop nie ek steur iemand se ontbyt met die eksplesietgeit nie - verskoning tog assbelieftog??? Nietemin, partykeer dan glip daardie ballon uit jou hande uit. En dan 'take-off' hy in alle rigtings en in die rondte en bollemakiesie.

So kom dit dat ek 'n pakkie ballonne 'score' by een van die dorp se ryk kinders se 15e verjaardagpartytjie. Altans, die kind het 15 geword, maar dis die eerste partytjie van hom wat ek ooit by was. Die laaste ook, as ek reg onthou. Nietemin, so is ek skooltoe en het ek balonne in die hand. Ons sit in die klas en luister na Mev Van Zyl. Sy was vreeslik statig met 'n bolla en altyd vreeslik "prim en propper" soos Ouma sou sÍ, met so 'n (toendertydse) byderwetse romp aan. Die pas erg styf, en strek tot tussen enkel en kuit. Agterkant was daar so 'n keep in. En was haar skoene se hakke hoog!!!

Toe glip die ballon uit my hande uit. Vlieg dak se kant toe, verander van gedagte, kies koers venster toe, maar besluit ook daarteen en met so 'n "fwrrrrt" geluid skiet die ballon vloer langs. Toe hy mooi tussen Mev Van Zyl se uhmmm, voete is, skiet hy op boontoe reguit op boontoe. 90-grade op boontoe. Onder haar romp in, tussen haar bene op, boontoe tot waar die rooi ballon hom doodloop teen, err, hoe sal 'k nou sÍ - waar daar nie meer plek is om op te gaan nie en hy ook uitasem is.

Mevrou Van Zyl het daarna nooit ooit weer so penorent kiertsregop geloop soos vantevore nie. Haar bolla het in die slag gebly toe sy die vierde keer teen die swartbord vasstorm in haar yl om uit die klas te kom en weg van die gevaarte wat haar privaatheid so skend. Haar spesifieke reaksies en tale laat ek aan jou eie verbeelding oor. Dit was skouspelagtig genoeg om my vanaand, 40 jaar later, wakker te hou en eers met julle te deel. Nou gaan ek slaap. Mooi loop almal.

Terug na kiesblad