BEKEER JOU, BROEDER! - Corinus

Jan en Piet is boesemvriende en hul gesinne hou al vir jare saam vakansie. Jan is 'n onderwyser en gewoond om voor mense te praat. Piet egter, wel hy is Piet en waar hy in die omgewing is, kan jy maar weet dat iemand aan die verkeerde kant van 'n poets gaan beland.

Een jaar gaan die twee gesinne na 'n vakansie-oord en daar word lekker gekuier. Die oord is stampvol en teen die Saterdag is almal sommer al ou 'vrinne'. Daarvoor het die oor en weer kuiery by braaivleisvure en "proe bietjie van myne" deeglik gesorg. Die oordbestuur besluit dat omdat die oord so vol is, dit die ideale geleentheid is om die Sondag 'n erediens aan te l. Ek meen, hard gekuier vir ses dae beteken darem bietjie uitvars en rus die sewende dag - en wat is dan nou beter daarvoor as juis 'n ou erediensie?

Daar word dus naarstiglik rondgesoek of daar nie miskien 'n predikant in die oord is nie, saak nie maak van watter kerk nie, solank dit darem nou nie een of ander heidense geloof is nie. Al is daar hard die week gekuier, is almal darem so min of meer nog van Christelike oorsprong en het sommiges selfs hul Bybels saamgebring vir bietjie Boekevat in die aand - nie dat iemand nou juis werklik daarby uitgekom het nie. Daarvoor was die kuiery hopeloos te lekker.

Piet vertel toe aan die oordbestuur dat Jan eintlik predikant is, maar graag incognito wil bly omdat hy juis besig is met navorsing oor hoe vakansiegangers hulle gedra wanneer hulle voel dat daar geen morele toesig naby is nie. Hy wil dus nie h die mense moet van sy status weet nie en het mooi gevra dat hulle daaroor moet stilbly, veral omdat hy in die week reeds vrugbare eiehandse navorsing kon doen. Dis hoekom hy vertel dat hy eintlik onderwyser is.

Die storie versprei natuurlik soos 'n veldbrand deur die oord - van die dominee wat eerstehands kom navors hoe Christene hulle tydens vakansietye gedra. Natuurlik verander al wat vakansieganger is net daar van persoonlikheid en word glasies stilletjies agter die rug weggesteek as Jan maar net binne sigafstand kom.

Vir die oordbestuur is dit soos manna in die woestyn. 'n Predikant hier in hul midde en dan nog een wat nou nie juis besonder predikantlik die hele week opgetree het nie. Net die persoon om 'n goeie boodskap te bring, want hy kan as't ware uit die geledere van die manne praat. Hy het immers die heel week soms tot laatnag saam met die taaistes onder hulle by die braaivleisvure deurgebring. Dit kan nie hor of laer nie, Jan word gevra om die volgende dag te preek.

Hy ontken natuurlik ten sterkste dat hy predikant is. Niemand wil glo dat hy onderwyser is nie, want Piet het dan vertel dis presies wat hy sou beweer. Maar wat, daar is so 'n behoefte aan 'n diens onder die vakansiegangers (miskien uit boetvaardigheid oor die oordaad van die week se gekuier), dat Jan maar moet instem. Na alles is hy darem onderwyser en daar is beslis plek vir 'n bietjie geestelike opvoeding onder die ou klomp sondaars.

Hy haal dus sy st 4 Trap der Jeugd vir Geestelike Opvoeding uit en begin sy "preek" Sondagoggend deur heel stemmig 'n stukkie uit die Bybel voor te lees. Dit handel oor Sodom en Gomorra en al die onheilighede wat daar aangegaan het. Toe hy begin preek, kry hy skielik so 'n snaakse trek - amper so 'n soort van 'n versluierde glimlag - om sy mondhoeke en spoedig preek hy dat die spoeg spat, want as onderwyser ken hy van praat. Hy praat van die euwel van drankmisbruik en die pyn wat dit onder die engeleskaar bring wanneer iemand hom daaraan vergryp, van hoe dit hartseer in gesinne bring en hulle uitmekaar laat skeur, van kindertjies wat honger gaan slaap as hulle pa sy loongeld uitsuip en van hoe liefde by die agterdeur uitvlug as drank by die voordeur insluip. Hy gsel hulle behoorlik en die klomp manne krimp inmekaar terwyl hul ander helftes dit nog verder invryf deur kort-kort met stywe wysvingers in boetvaardige ribbes te pomp. So asof hulle uitroeptekens agter die "dominee" se woorde wil sit.

Op die hoogtepunt van sy "preek" stop Jan dramaties en wys na Piet wat sommer hier vlak voor hom sit en hom verkneukel in sy maat se manewales.

"Geliefdes," dawer dit van voor af, "Geliefdes, en hier sit 'n broer wat verlore was, maar nou gered is. 'n Broer wat in die kloue van drank vasgevang was, maar wat besluit het om die goeie stryd daarteen te stry. Hierdie broer, broer Piet, het net vanoggend besluit dat hy teen die drankduiwel gaan baklei. Help hom om die bose mag van die drank af te skud en as oorwinnaar uit die stryd te tree. Staan hom by in sy geveg teen sy sondige verlede. Gaan drink tee en koffie by met hom en help hom waak teen die versoeking van drank om die braaivleisvuur. Bly by hom, van vroeg in die oggend tot selfs laat in die nag. U dra sy redding in u hande. U hou die kleed van sy nuwe toekoms vas. Moet dit nie laat val of hom versaak nie."

Na die preek is al die vakansiegangers dit eens. Hierdie Ds Jan is darem 'n uithaler prediker. Red sommer 'n verlore siel net so tjoef-tjaf, en dan is hy nog so nederig ook, want hulle moes hom behoorlik soebat om te preek.

En Piet? Vir die oorblywende week van sy vakansie kon hy nie sy stert draai nie of iemand druk 'n koppie koffie of tee of koeldrank in sy hand. Snags twee-uur vergesel hulle hom bedtoe en soggens sesuur staan die eerste een al en wag vir hom om wakker te word. G'n beduidenis van 'n ou alkoholtjie kon hy oor sy lippe kry nie. Daarvoor het die "Geliefdes" hul opgelegde taak te ernstig opgeneem.
 

Terug na kiesblad