PROSTITUTE BY DIE TON - Corinus:

Januarie 1976 begin die groot uittog uit Angola. Waar ek by Veggroep Orange as 'n artillerie Voorste Observasie Offisier (VOO) diens doen, is dit heel prettig. Soos wat UNITA terugtrek, stel hulle padblokkades op. Gewoonlik is dit twee 44 gallon dromme in die middel van die pad met 'n wag en 'n horde "soldate" rondom - almal geklee in 'n verskeidenheid kledingstukke waarvan sommige selfs vaagweg met 'n bietjie verbeelding sou kon deurgaan as uniform. Sodra die RSA troepe verby is, word die padblokkade opgebreek en met 'n verskeidenheid voertuie van BMW's tot die regte Portugese groentelorries by ons verbygejaag sodat daar asseblief net nie niks tussen hulle en wie ookal in aantog is, moet wees nie. Die terugtog duur tot by die laaste padblokkade verby en so hasie-oor hulle met 'n paar kilometer tussen padblokkades - soms tot vyf binne 'n paar kilometer van mekaar.

So besluit een voortvarende padblokkadebevelvoerder om 'n troep kanonne te daag. Vir die doel laat hy 'n arme UNITA troep bo-op elke drom stelling inneem en toe die konvooi aankom, waai hulle vervaard. Van stilhou is daar natuurlik nie sprake nie. Die troepbevelvoerder se Landrover pas mooi tussen die twee dromme deur. So ook die eerste Magirus kanontrekker, net-net. 'n 140mm kanon se wiele is egter bietjie breŽr as sy sleepvoertuig. Teen 80 km per uur neem die kanon beide dromme onder die wagte uit. Die arme drommels maak so 'n lui bolmakiesie en tref die grond dat die stof so staan. Ek weet nie of daar radioverbindings tussen die padblokkades was nie, maar toe ons die volgende een nader, is hulle naarstiglik besig om die dromme verder uitmekaar te skuif.

'n Troep pantserkarre dek die agterhoede, want geen terugtrekkende mag laat sy agterstewe oop vir iemand om hom daar te byt nie. So sit ek as VOO saam met die pantserkarre goed 40 km agter die terugtrekkende troepe. Die voertuie is mooi tussen die bosse ingetrek en gekamoefleer. Dis so stil dat jou ore behoorlik suis. Dan, in die vÍrte, raak iets hoorbaar. Aanvanklik is die geluid nogal verwarrend, want dit klink kompleet nes 'n skare by 'n rugbyveld, maar net op 'n ietwat hoŽr toonhoogte. Na goed 'n kwartier kom 'n reuse wipbak vragmotor in sig - 'n veertigtonner - en dis gepak met vrouens wat lawaai en baklei en te kere gaan sodat die gedreun van die enjin totaal daardeur verswelg word. Hulle staan so styf ingepak dat 'n sardyntjie in sy blikkie skoon verdwaal sal voel in al die spasie wat hy beskikbaar het.

Amper verby die pantserkarre toe sien die drywer ons raak, hou net daar stil en kom oorgestap. In Fanagalo met hier en daar 'n Portugese woord ingegooi, wil hy terstonds besigheid gesels. Uit die gebare en op- en aanmerkings vanaf die volgepakte vragmotor is dit duidelik dat die vrouens sy poging met belangstelling volg. Spoedig raak dit duidelik. Die vragmotor se inhoud is die gewese inwoners van die vorige dorp se bordeel wat as deel van UNITA se logistieke stert na veiliger hawens afgevoer word - en hulle lyk heel gewillig om net daar van diens te wees.

Veertig ton jillende gillende bakleiende prostitute bymekaar was genoeg om my my lewe lank daarna op die smal en reguit paadjie te hou!

Terug na kiesblad