GHRIES TERWYL JY KAN - Corinus:

Oom Piet Ghriespomp het na baie jare van troue diens aan sy dorp die tydelike met die ewige verwissel. Hy het begin as 'n "appie" werktuigkundige, wat as eerste skoling in die edele beroep van motors herstel, ghries'nipples' moes diens - vandaar sy bynaam. Van die ouer lesers sal nog die era onthou waar elke motor veelvuldige punte gehad het wat met elke diens vol ghries gepomp moes word. (Soos die ou oom iewers in Namakwaland wat altyd die wolk se silwer randjie gesien het, al was die onweer daaragter hoe dreigend. Eendag ry hy en 'n maat en gaan 'n driffie op 'n rowwerige Namakwalandse grondpad bietjie te vinnig binne. Toe die stof bedaar en die twee seker gemaak het dat daar niks van hul anatomie vermis word nie, kyk die oom na die bakkie wat op sy rug in die driffie lÍ en merk so ewe droog op: "Kyk, nou sal so 'n bakkie darem lekker ghries.")

Ewenwel, Oom Ghriespomp het gevorder van "appie" tot volwaardige werktuigkundige en later selfs werkswinkelvoorman. Laasgenoemde het hy vermag deur heel gerieflik die eienaar se dogter te trou, sodat hy mettertyd by verstek die eienaar van die perseel geword het. (Eintlik halwe eienaar, want binne gemeenskap van goed getroud het helfte steeds aan sy vrou laat behoort. Sy was egter 'n verstandige mens en het hom die werkswinkel laat beheer terwyl sy die huishouding en hul groeiende kroos versorg het. Oom Ghriespomp het nie daarin geglo om net karre te ghries nie, sodat sy huishouding feitlik jaarliks aangegroei het.) Sy seuns het almal "oliekannetjie" as bynaam gekry, terwyl ek maar liewers oor die dogters se byname sal swyg, maar "nipple" was prominent daarin.

Soos sy besigheid en welvarendheid gegroei het, het die oom se afmetings ook toegeneem. Toe hy die skaal naastenby op 240 kg laat kreun, het sy hart besluit om die dokter se bekommernis oor sy cholesterol ernstig op te neem en hom een Sondag tydens 'n middagslapie aangeval.

Nou lÍ hy in staatsie in sy kis by die kerk se ingang. Die begrafnisondernemer het die draers opkommandeer, die kis op die begrafniswaentjie geplaas en met 'n gesweet en woorde wat meer gepas sou wees in 'n werkswinkel wanneer 'n enjin op iemand se voet val, die kis teen die tiental trappies uitgestoei gekry. Daar het die draers egter viervoet vasgesteek en verseg om die kis binnetoe te dra. Gedagtig aan die komende afstoei teen die trappe na die begrafnisdiens en die verdere dra by die begraafplaas, het hulle nie kans gesien om hom tussen die kerkbanke deur tot voor die preekstoel te probeer maneuvreer nie.

Dit is Augustusmaand en die wind wat profeteer van 'n goeie reŽnseisoen wat aan die kom is, tier om die kerk se hoeke. Waar Oom Ghriespomp saliger in sy kis op die waentjie voor die kerkdeur rus, word amper 'n soort lugleegte gevorm. So nou en dan verloor die kerk se hoeke hul greep op die wind en dan is dit asof tien orige jongossies daardie lugleegte binnestorm en teen alles stoot waar hulle vatplek kan kry, en Oom Ghriespomp se kis is uitermate groot en bied uitermate lekker vatplek vir 'n baldadige Augustuswind.

Die kerk sit stampvol, want die oom was 'n gerekende man onder sy mense. Sy onmiddellike familie sit, soos tradisie betaam, die voorste drie kerkbanke vůl. (Ek het gesÍ die oom was nie net met 'n ghriespomp handig nie.) Dominee preek roerend oor 'n pilaar wat uit die gemeenskap geruk is en 'n seder wat in Libanon geval het, terwyl hy by homself wonder of die oudste seun, as nuwe garage-eienaar, steeds die pastorie se voertuie gratis sal diens.

Die draers word later vorentoe geroep sodat hulle, met Dominee aan die voorpunt en gevolg deur die naaste familie, die roubeklaers as't ware uit die kerk kan voorgaan. Toe die prosessie so ongeveer halfpad met die paadjie langs kerkdeur toe gevorder het, is dit asof die wind vir 'n oomblik gaan lÍ. Maar toe slaan dit met woeste geweld toe en van buite is daar 'n harde slag, gevolg deur die geluid van iets soos hout wat breek.

Buite wag 'n ongewone gesig op die begrafnisgangers. Die waentjie staan nie meer voor die kerkdeur nie. Die wind het dit teen die kerktrappies laat afhol. Iewers in hierdie benededaling (hopelik nie na die hel nie), het die waentjie sy vrag soos 'n steeks mustang op 'n rodeo afgegooi en so 'n twintig tree van die onderste trappie af op sy sy gaan lÍ.

Die kis lÍ aan flarde aan die onderpunt van die trappies. Oom Ghriespomp se oorskot het blykbaar nog bietjie momentum gehad en het teen die lykswa opgeŽindig, met sy gesig wat so half onder die lykswa inkyk asof hy met inspeksie daar besig is. Groot konsternasie en dit neem geruime tyd om almal tot bedaring en gelawe te kry.

Net toe almal nou weer rustig is, laat Ou Siena, jarelange bediende van die Ghriespompe, van haar hoor. "Ai, kyk dan net so vir ons Oubaas. Lyk my hy wou nog vir oulaas bietjie ghries!"

Terug na kiesblad