DIE HONDE EN DIE JAKKALS:

Hierdie storie is miskien nie heeltemal waar nie, maar hy vertel so lekker.

Daar is miskien nog van die vrinne wat die dae kan onthou toe daar Vrydagaande honderesies by Wembley in Johannesburg was. Dit is as 'n euwel beskou, want die manne kry Vrydae hulle weeklikse loon, en dan gaan hulle 'honne toe', verloor die geld, en arme Mammie en die ou kindertjies is sonder kos.

Op 'n dag besluit die regering toe, tot hiertoe en nie verder nie, en daar verskyn 'n proklamasie in die Staatskoerant dat honderesies van 'n sekere datum af verbied word.

Daar in Beaufort-Wes se kontrei lees oom Peet Viljee van die ding in Die Burger, wat hy per pos kry, so 'n dag of wat laat, maar nuus word darem mos nie so gou oud nie. Hy ry tertstond dorp toe en gaan sien sy prokureur. Hy gee die prokureur opdrag om Johannesburg toe te bel om by die eienaars van die resieshonde te verneem of hulle nie onder die omstandighede bereid sal wees om van die honde aan hom te verkoop nie, want die jakkalse maai onder sy skape en sulke vinnige honde sal mos gou met die roofdiere kan afreken.

Die prokureur maak toe so, en na 'n groot gesukkel kry hy darem uiteindelik die regte mense in die hande. Vir hulle is dit 'n uitkoms, want anders sal hulle die honde moet laat uitsit. Die prys wat hulle vir die honde vra, is ook sommer baie billik. Die prokureur laat weet oom Peet van die ding, en hy sit 'n kap op die bakkie en ry dorp toe om by die prokureur te gaan uitvind waar hy moet heengaan, want Johannesburg is vir hom vreemde kontrei.

Na so twee dae se ry kom die oom in Johannesburg aan, en met pad vra en baie genade van Bo kom hy naderhand by die honde-eienaars uit. Hy koop toe sommer die hele bakkie vol honde en val in die pad - ry dwarsdeur die nag om die honde nie te veel te vermoei nie. Tuis gekom, slaap hy en die honde hulle eers uit om van die tog te herstel, en die tweede dag is die oubaas saam met die son op, laai die honde op die bakkie en ry veld toe.

Nie te lank nie, en daar is die jakkals! Oom Peet hou stil en los die honde, en daar trek hulle oor die bult agter die jakkals aan. Die oom volg met die bakkie so vinnig as hy kan, oor die klippe en gannabosse en goed. Toe hy die tweede bult uitry, sien hy sy bywoner daar bo.

Hy hou by die man stil, groet nie eens nie en sÍ, "Koos, is die honde en die jakkals hier by jou verby?"

"Ja, Oom," antwoord Koos.

"Het die honde hom al gevang?" vra oom Peet.

Koos krap sy kop en sÍ, "Wel, Oom, toe hulle hier by my verby is, het die jakkals so derde gelÍ."

Terug na kiesblad