JANIE SE GROOTWORD JARE - deur Madelene:

Die dag toe my pa met hierdie klein wesie, toegewikkel in sy trui, voor my ma kom staan, het sy gemengde gevoelens ervaar. Ergenis, want sy is n besige boervrou en sien nie nog kans vir kleintjie grootmaak nie. Haar twee spruite was al mooi groot en sy het lank reeds vergeet van doeke ruil en pajamadril. Tog, toe sy in die verskrikte, koelronde donker ogies kyk en daardie potsierlike gevreetjie aanskou, het jammerte haar hart gevul. Onwillekeurig het sy haar hande uitgesteek en die beangste bondeltjie by my pa geneem. Hy was seker net enkele dae oud, want die ou lyfie was nog pienk met net sulke sagte donsies op die velletjie. Sy ma is dood en foeitog, hy het steeds aan haar maag vasgeklou. Die trop was nrens te siene nie en ek kon hom tog nie daar in die veld laat om van hongerte dood te gaan nie, het my pa verskonend verduidelik.

So het dit dan gebeur dat Janie die bobbejaantjie deel geword het van ons lewens. Ek en my broer was reeds uit die huis en het net vakansies ons verlustig in Janie se kapperjolle en stoutighede. My ma moes maar weer begin popspeel. My ma het inderhaas voor haar Singer naaimasjien gaan sit en n paar piepklein babadoeke gemaak asook n paar kledingstukkies om die lyfie warm te hou. Natuurlik moes sy slim ontwerp, want daar was n stertjie waarvoor daar voorsiening gemaak moes word. Kyk, sy sou nie n morsery in die huis duld nie en daarom moes Janie doek dra en so gou as moontlik ordentlike toiletgewoontes aanleer. Janie het geen probleem gehad met sy bottelvoedings nie en het gulsig aan die tietiebottel gesuig. Sommer gou het hy geleer om sy bottel self vas te hou.

Natuurlik het hy iewers vasklouplek gesoek en hy besluit toe om op my ma se voet te sit en om die enkel vas te klou. Dit was nie baie gemaklik nie, want my ma was altyd op n drafstap en net so besig buite die huis, as binne. Toe begin Janie uitkyk vir n ander ryperd en gewaar vir Asjas, my wyfiekat. Asjas was nie baie groot nie en beslis nie gebou om n bobbejaantjie rond te dra nie. Janie het egter aan Asjas se maag vasgeklou en maar saamgesleep terwyl Asjas benoud probeer ontslae raak het van hierdie onwelkome aanhangsel. Janie het nooit hierdie afjak vergeet nie, maar wel haastig n ander ryperd gaan soek. Wittes, die groot mannetjieskat was sy volgende slagoffer of het hy dalk hom as peetma aangeneem? Wittes was darem groter as Asjas en hoewel hy baie ongemaklik geloop het met hierdie klein bobbejaantjie wat hier onder aan sy maag gehang het, het daar tog n besonderse verhouding tussen hul ontstaan. Verbasend hoe hierdie mannetjieskat skielik moederlike eienskappe ontwikkel het. Wittes het gereeld Janie se gesiggie gewas terwyl Janie seker gemaak het dat daar geen vlooi op sy ryperd huisvesting vind nie. Janie se koppie het soms teen die grond geraak en daar was later al n blessie agter sy kop, maar vir n paar weke lank moes Wittes hom rondra. Eenkeer het Wittes n muis gewaar en n reuse sprong probeer uitvoer met Janie en al. Natuurlik was die jagtog onsuksesvol en het Janie vererg gekerm omdat hy sy kop gestamp het weens sy ryperd se roekeloosheid. Toe Janie n kleuter was en sy eie klouterpaal en huisie gehad het, het hy en Wittes nog gereeld saam geslaap. Nou het hy egter Wittes in sy arms vasgehou soos n teddiebeer. Hy het egter nooit vrede gemaak daarmee dat Asjas hom nie wou dra nie en as hy Asjas in die hande gekry het, het hy haar kop in die grond gedruk of aan haar stert gepluk.

Toe Wittes nie meer Janie se gewig kon saamsleep nie, het Janie besef dis tyd vir n nuwe ryding. Kwassie, die skaaphond moes nou die drawerk doen. Aanvanklik was Kwassie vreeslik verle as die bobbejaantjie hier onder sy maag aan sy woljas vasklou. Hy het met omgedopte o en stert tussen die bene probeer koers kies. Tog het die twee baie gou beste vriende geraak en sommer gou het Janie van onder Kwassie se maag tot op sy rug gevorder. Kyk, toe jakker die twee darem oral rond. Janie was hoog in sy noppies met hierdie perd wat so vinnig kon draf en saam kon hul hoenders jaag en agter die beeste aandraf. Kwassie was baie beskermend teenoor Janie en niemand sou waag om hom leed aan te doen nie.

Saans wanneer my pa van die lande af tuis kom, was dit n vreeslike ontmoeting. My pa sou op die stoepbank gaan sit en dan het Janie dadelik op sy skoot geklouter. Dan het daar n geselsery plaasgevind wat net die twee kon verstaan. Vir my het dit kompleet gelyk asof Janie gaan skinder of nuus aandra, want hy sou so in ons rigrting kyk en dan selfs met die armpies beduie terwyl hy onophoudelik in bobbejaantaal babbel.

My ma en Janie het een middag n noue ontkoming gehad. Sy het buite op die stoep gesit met Janie wat uitgestrek in haar skoot l en slaap het. Skielik het hy met n gilletjie orent gespring en beangs teen haar bors vasgeklou. Eers het sy gedink hy het n nare droom gehad, maar toe gewaar sy die dreigende gevaar. Net n paar tree van hul af het drie volwasse bobbejaanwyfies gestaan. Nou moes my ma kop hou, want dit het nie soos n vriendelike welwillendheidsbesoek gelyk nie. Sy het Janie probeer kalmeer en hom baie versigtig op die grond neergesit. Janie het rats teen sy paal uitgeklouter en gaan skuliling soek in sy huisie terwyl my ma vinnig na binne gevlug het. Gelukkig het die drie besoekers omgedraai en koers gekies vyebome toe.

Eendag was Janie buite op sy paal, besig om die wreld te bekyk, toe hy vreeslik begin gil. Toe my ma uithardloop om te gaan kyk, het Janie letterlik die aapstuipe. Die rede? Daar was n trop bobbejane teen die kop oorkant ons huis en Janie was doodbang. Hoe moes hy dan weet dit is sy familie daardie?

Toe kom die hartseer dag dat daar vir Janie n ander heenkome gevind moes word. My ouers moes dorp toe trek weens my pa se swak gesondheid en Janie sou nooit daar kon gaan bly nie. n Man wat vir Telkom gewerk het en ook op n plaas gewoon het, het vir Janie aangeneem. Of Janie nog leef, weet ek nie. Miskien het een van julle hom al gewaar waar hy bo-op n telefoonpaal sit, besig om die lyne na te gaan
 

Terug na kiesblad