KAFEEKAT:

Dit kom uit die pen van Stof:

Onder die skadunet by die padkafee sit ek suig-suig aan 'n strooitjie op 'n Dinsdagaand. Hier is mense te voet, mense per fiets, mense per standaardvoertuie en mense per luukse voertuig. Almal vlug van iets af. 'n Huis, 'n werk, pyn, of eensaamheid. Hier is maskers van alle tipes. Party lag luidrugtig om die swere weg te steek. Ander vertel strories wat ooglopend 'n fantasievlug is. Die meeste eet in oordaad. Maar daar is ook hulle wat net 'n koeldrank of pakkie skyfies het. Dan kom 'n gemmerkat onder 'n tafel uitgekruip. Sy desperate groot oŽ staar my smekend aan vir 'n stukkie vleis, terwyl ek net maar 'n glas sap by my het. Hoe kan ek aan hom verduidelik dat ek verstaan, weet wat in sy binneste leef? Dat ek ook soms met smeking pleit vir 'n bietjie aanvaarding, bietjie sin. 

Hy is waarskynlik al baie keer geskop, want hy koes benoud weg as ek my hand uitsteek om hom te streel, te probeer om 'n geesgenoot gerus te stel. Dan besef ek dat ek ook 'n spul ongevraagde skoppe al gehad het. Hy miaau saggies, so asof hy nie eintlik wil steur nie. Dan hoor ek sy kattetaal duidelik in mensetaal. Hy sÍ: "Ek is alleen, het lig hier gesien skyn en kom kyk of hier dalk iemand mag wees wat omgee. Ek wil nie pla nie, maar vra net 'n bietjie aanvaarding, dalk nog 'n happie kos ook. Verskoon my as ek koes as jy my wil streel, want die skoppe van ander is nog te vars. Eensaamheid maak my desperaat, en daarom is ek hier tussen mense om dalk tog 'n stukkie liefde en dalk 'n happie kos te kry. Maar ek sal verstaan as jy my ook skop, ek is dit gewoond." Dan kyk kat en mens mekaar reguit in die oŽ, en ek weet hy verstaan wat ek woordeloos aan hom sÍ. 

Hy kom nader, maak sy rug effe krom, skuur teen my been terwyl hy spin, en draf dan weg. Ek kan sien dat hy blom van slegs 'n oomblik se aanvaarding. Hy kruip nie meer nie, maar draf met 'n trotse houding. Hy los my dan alleen agter: eensaam. Tog dankbaar dat ek kafeekat se aand kon verander. Maar elkeen rondom my eet steeds maar sy eie biefstuk, drink sy eie melkskommel, praat sy eie dinge. Dan weet ek: dat dit nie geweld of vuurwapens is wat die meeste sterftes veroorsaak nie, maar eensaamheid. Giftiger as strignien, dodeliker as 'n kernbom, is eensaamheid. Wens jou grootste vyand dan eerder kanker toe, maar asseblief net nie eensaamheid nie, want eensaamheid is die mees terminale toestand denkbaar. Niemand verdien dit nie. Intussen vergaan duisende mense daagliks omdat eiebelang en haas maak dat ander verby eensames storm en selfs bo-oor hulle rol in eiegeregtige ideale.

In Vierdestraat is 'n eensame mens, iemand wat reeds uit sy pad gegaan het om vir JOU iets te beteken. Wat doen jy anders as om hom bloot maar net te kritiseer in sy dagtaak? Is dit nie nou tyd om 'n broer vir 'n broer te wees, 'n stut vir 'n medemens? 

Ook in elke ander straat, in elke dorp, sal jy hom kry, 'n geskopte, 'n eensame wat smag na net 'n klein bietjie waarde.

Hulle soek net "een om my hand te neem". Wees jy vandag daardie "een"

Terug na kiesblad