JOU KANS OM DIE LOTTO TE WEN:

Ek het 'n baie interessante ding gelees. Ene Dok Gert het wiskundig gaan bereken wat 'n mens se kanse is om die Lotto te wen.

Volgens sy berekening sal 'n mens 13 983 816 kaartjies moet uitneem om al die moontlike kombinasies te dek. Teen R2.50 per kaartjie sal dit jou 'n skamele R34 959 540 kos. Verder het hy bereken dat as dit jou 10 sekondes sou neem om jou 6 nommers in te vul, sal dit jou 1618 dae neem om die kaartjies te voltooi. D.w.s. 4 jaar, 5 maande en 5 dae sonder ophou.

Dit lyk nie te sleg nie, gedagtig daaraan dat jy dan tussen daardie kaartjies 'n paar het wat 5 nommers plus die bonusnommer het, en ook 'n aantal met al die mindere kombinasies. My kop is te plat om te bereken hoeveel van die mindere kombinasies daar sal wees, en of ek darem 'n wins gaan maak as ek al die geld getrek het.

Ek het nou nie gekyk hoe lank dit neem om die kaartjies deur die masjien te druk nie, maar iets sÍ vir my dat as ek wel al die kaartjies ingevul het, na 1618 dae, waarin ek nie geslaap, geŽet of badkamer toe was nie, ek maar liewer moet sÍ "Tatta my kans, tatta my miljoene!" want daardie spul kaartjies sal nooit in der ewigheid betyds deur die masjien gaan vir die volgende trekking nie. Dan het ek nog nie eers die tyd bygesit wat dit sou neem om my geldjies te tel wat ek vir die spulletjie moet betaal nie. Ek weet nou nie of 'n mens met 'n tjek kan betaal nie, maar as jy nie kan nie, sal jy ten minste 174 797 x R200 note, 1 x R100 noot en 2 x R20 note moet gebruik.

Jy weet as iemand praat van R1000 dan het ek 'n idee hoeveel geld dit is, en wat ek daarmee kan gaan koop. Sodra dit by miljoene kom, het ek geen idee van hoeveel geld dit is of wat 'n mens daarmee kan koop nie. Om die waarheid te sÍ weet ek nie of 'n mens R1 miljoen kan dra en of jy dit met 'n kruiwa sal moet stoot nie. Kan iemand dalk die berekening maak van hoe groot my banksak sal moet wees om die ou spulletjie na die verkooppunt te neem en wat dit sou weeg?

So, laat ek maar glo dat ek met my R7-00 kaartjie net so 'n goeie, of slegte kans het as met meer. Ek het darem al daarmee een keer R7-00 gewen. Toe ek die uitslae gaan kyk by die Griek op die hoek en die riel begin dans, was hy oortuig ek het minstens 6 nommers plus die bonusnommer in. Hy storm op my af en wou weet hoeveel ek gewen het. Toe ek uiteindelik vir hom kon beduie ek het drie nommers in die lotto plus wou hy ewe bedees weet of ek daarmee nog 'n lottokaartjie wou koop. Die man het nie gedink dit is snaaks toe ek vir hom vra of hy mal is nie. Dit was die eerste keer wat ek iets gewen het.

Terug na kiesblad