Van Corinus

MISDAAD (met so 'n klein bietjie lekkerkry daarby)

Maandag laatmiddag is my bakkie se noodwiel in Pretoria gesteel - helder oordag in 'n straat vol mense. Natuurlik het niemand iets gesien of gehoor nie. Die een oomblik was die noodwiel nog daar. Die volgende oomblik was dit net weg - poef - asof dit nooit bestaan het nie. Maak nie saak dat dit eers onder die voertuig afgewen moes word nie. Dit het net tussen neus en oŽ verdwyn.

Toe begin die ongerief. Eers die saak Dinsdag by die polisie aanmeld en 'n uur is daarmee heen. Dan die versekering skakel, net om uit te vind dat my bybetaling groter gaan wees as die verlies. Laastens die ongerief om 'n velling en band in die hande te probeer kry. In hierdie mooi land van ons is dit ongelukkig 'n feit soos 'n koei dat jy met jou lewe dobbel sou jy sonder 'n noodwiel iewers een nodig kry.

Uiteindelik kry ek 'n velling aan die ander kant van die stad opgespoor. Die dag is daarmee heen en my hele program is in sy peetjie. Die ongerief stel eise aan my naasteliefde en deernis met die wat dit nie breed het nie, wat my skoon knorrig laat voel. Dan kom die gedagte egter by my op. Miskien moet ek eerder dankbaar wees. Minstens het die dief die res van die bakkie (met al vier wiele) vir my gelos!

Nou is dit tyd vir bestekopneem. Hoe het die misdaadgolf my uitgebreide familie die afgelope ruk geraak? My oudste broer het enkele weke gelede 'n inbraak in Pietersburg gehad. Dis net sy mak leeu (vermom as 'n foxterrier genaamd Betingel), wat groot verliese voorkom het. Die volgende in die ry is byna op sy fiets in Newcastle doodgery - harsingskudding, 'n paar afgeskeurde vingers (letterlik) en die bestuurder van die voertuig is nou nog weg. Op Vryburg is een se huis onlangs redelik leeggedra - op 'n Sondagaand. Sy seun in Pretoria het al al vier bande aan sy motor verloor. Behalwe vir my eie verlies, is my Beter Helfte by 'n robot in Pretoria beroof - 'n fynbeplande operasie wat met kliniese effektiwiteit uitgevoer is. Net my dogter se vinnige reaksie het voorkom dat sy die slagoffer van 'n kaping in Pretoria geword het. Die drie susters bly almal in die Kaap. Sover ek weet, is hulle nog ongeskonde. 'n Inbreker is in skoonsus se huis in Roodepoort betrap. My vrou se enigste oorlewende oom het onlangs 'n inbraak in Kaapstad gehad. So kan ek aangaan.  As ek die familie in die land (en ons is nogal baie) so deurwerk, kom ek naastenby by net 40% uit wat nog nie aan eie lyf deur misdaad geraak is nie.

Is dit die verhaal van meeste families in die RSA? Ek is geneig om so te glo. Is dit genoeg om ons uit die land te dryf? So nooit as te nimmer nie. Die volgende geslag sal dit moontlik doen weens werksgeleenthede, maar my geslag is te oud en te gevestig in ons weŽ om ons daardeur op loop te laat jaag. Ons maak liewer die heining nog 'n bietjie hoŽr, sit nog 'n veiligheidshek of twee aan, brei die diefwering uit, sluit by 'n sekuriteitsmaatskappy aan, skaf nog 'n paar vermomde leeus aan, pas dieselfde oorlewingstegnieke by robotte toe wat 'n hele geslag mans op die grens geleer het,  prakseer 'n slot vir 'n bakkie se noodwiel. So gaan ons aan.

Ons voorvaders het barbare en wilde diere oorleef. Nou is daar net nie meer barbare nie ....

Lesers ken my egter as iemand wat ook die komiese in 'n situasie raaksien. Daarom was dit vir my mooi om te hoor van die klomp boere in Limpopo wat onlangs binne minute die skelms by 'n plaasaanval gevang en ongeskonde aan die SAPD oorhandig het - rÍrig. Hulle was so vriendelik om sommer daar van die misdaadtoneel af te begin reel vir borgtog vir die oortreders. Die boere het selfs aangebied om die geld vir die borgtog te betaal. Hulle sou die beskuldigdes ook self by die hof gaan haal en help dat hulle by hul huise uitkom. Ek kan nou nog nie verstaan hoekom die rowers die aansoek namens hulle vir hul eie borgtog so heftig teengestaan het nie!

In Kaapstad bly Great Dane op die hoek, langs hom is Rotweiler, dan Alsation, dan Staffie, dan Foxterrier en laastes Chihuahua. Ta besluit om die laaste huis te takel. Chihuahua maak sy baas wakker en baas storm met sy handkanon die gang af. Inbreker besluit om die hasepad te kies en spring oor die muur in Foxterrier se erf in, met Chihuahua se baas en die handkanon 'n kortkop agter. Foxie moedig hom oor die breedte van die erf aan tot oor die muur waar Staffie reeds staan en wag. Wyslik besluit baas om by die muur te stop, want hy weet wat anderkant wag. So vorder Ta van erf tot erf, met die hond wat elke keer net groter word. Hulle kry hom in die hoek van die laaste erf met Great Dane wat voor hom staan en hom waterpas in die oŽ kyk. Hy het nie 'n skrapie aan sy lyf nie, maar van skrik kan hy nie 'n woord uitkry nie.

Iewers in die Boland bly Andries en Fyta op 'n plaas. Dis 'n ou huis met die vensterrame wat nog opskuif (die antieke lesers sal miskien nog die toue wat deel van hierdie kontrepsie is, onthou). Andries word die nag wakker en hoor hoe die inbreker die skuiwer van die venster oopmaak. Hy staan suutjies op, gaan staan langs die venster en toe die inbreker sy bolyf oor die vensterbank stoot, slaan hy die raam met soveel geweld op hom neer, dat die inbreker se voete van die grond af lig (die bron van die storie sÍ ek moet sÍ dat sy aambeie so 'n tuit gemaak het, maar ek sal dit mos nooit doen nie!).

"Fyt, kom hou vas!" Fyta is een van daardie vrouens wie se voorouers barvoets die Drakensberge kon oor en met haar volle 130 kg kom lÍ sy op die vensterraam. Die inbreker se bolyf is so vÍr in die vertrek in dat hy homself nie met sy arms kan opstoot nie. Andries stap buitentoe met die handsambok waarmee hy die klomp nikswerd werfhonde (geen foxie daar nie) tugtig en meet die inbreker se boude daarmee. So elke derde hou is mis soos wat die man sy agterent rondgooi. Elke keer as Andries 'n ekstra lekker hou inkry, dan lig daardie raam so 'n paar duim. Ag maar wat, Fyta klou soos 'n neet en ry hom elke keer weer terug aarde toe. (Soos my bron sÍ: "Hy slaat daardie getuite aambeie weer terug in hul plek", maar ek sal mos nooit iets so onbehoorliks laat deurglip nie!)

Toe Andries nou behoorlik moeg geslaan is, toe sÍ hy: "Fyt, laat los". Met die dat die voornemende inbreker voel die gewig op sy skof verminder, skeur hy hom tussen vensterbank en vensterraam uit en kies al brullend die vlakte, deur die driffie en oor die bult aan die ander kant van die rivier.

Ek haal my hoed af vir so 'n kloekmoedige egpaar. (Nie oor die tugtiging van die inbreker nie, want daar is seker mense wat sal sÍ Andries moes eerder die polisie geskakel het. Net een ou probleempie egter. Daar is nie 'n telefoon nie). Ek haal egter my hoed af vir Oupagrootjie Andries (78) en Oumagrootjie Fyta (net so 'n kortkop agter) wat, ten spyte van hul jare en verskeie agterkleinkinders, steeds vreesloos kans sien om te beskerm wat hul eie is en wie weet, daardeur miskien nog 'n plaasmoord voorkom het. Dit is mense soos hulle wat my laat bly hoop vir hierdie mooi land van ons.

<><><>

Terug na kiesblad