E-pos - Nuwe naelstring van die lewe. Deur Corinus.

Kom hier vandag 'n e-pos met 'n 280 sterk naamlys by my aan. Dit handel oor
een of ander misplaasde tante wat in die VSA die naam van God van die lug
verban wil kry. Dit sal glo die einde van programme soos "Touched by an
Angel" en Godsdienstige programme beteken. Het glo reeds 287 000
handtekeninge daarvoor ingesamel en hierdie e-pos is nou die teenvoeter
daarvoor. Elke 1 000ste persoon moet die lys na 'n adres in die VSA roeteer.
As ek die e-pos moet glo, is dit hierdie tannie wat dit 'n paar jaar gelede
reggekry het om die lees van die Bybel in openbare skole in die VSA verbied
te kry. Ek het toe maar my naam bygesit en aangestuur, want ek geniet tog
vir Tess en Monica so!

Dis egter nie waaroor ek wil skryf nie. Toe ek bietjie mooi na die lys van
name kyk, tref dit my skielik hoe klein die wÍreld geword het. Die plekke
waar die berig al gaan draai het, oorspan Suid Afrika en kontinente. Dit
spring ewe gemaklik tussen Afrikaans en Engels rond en wys met 'n oogopslag
hoe wyd families en vriendekringe al oor die aardbol heen versprei het.

Die eerste naam op die lys is van Oos London. Die berig toer so 'n naam of
twee daar rond, spring dan na King William's Town en ry wipplank tussen
daardie dorp en Oos London. Skielik vertrek dit Kaapstad toe, maak 'n draai
in George en keer terug na die Kaap waar dit tot naam 16 bly. Dan is daar
ses skaam mense wat net hul name gee, maar by no 23 slaan dit skielik in
Bloemfontein uit. Daarvandaan verkas dit Colesberg toe, dan Welkom, maak 'n
draai in Secunda en by no 38 land dit in Moreton. Brittanje. Terug na SA
(weer 'n paar mense wat nie hul dorpe noem nie), Pretoria, Witbank en skep
dan 'n wyle asem in Johannesburg. Daarna kies dit die pad na die Noorde via
Pietersburg, Chegutu in Zimbabwe, Sinazongwe in Zambia, dan Malawi en kom
hou skielik weer vakansie in die goeie ou RSA by Kloof.

Daarvandaan word Oos London weer aangedoen en dan vertrek die boodskap op 'n
uitgebreide internasionale toer met Ierland, die VSA en New Seeland wat
besoek word. Op no 87 is dit terug in SA, maak 'n draai by Pietermaritzburg,
Kaapstad, Walvisbaai, Khorixas, Postmasburg en dan terug NamibiŽ toe. By no
100 is ons terug in Pretoria, gaan loer gou vinnig in Sydney hoe die Bokke
vaar, terug na Pretoria en vertoef dan 'n wyle op die HoŽveld -
Johannesburg, Edenvale, Kempton Park, weer Edenvale, weer Johannesburg, gaan
loer vinnig in by Madikwe in NW Provinsie, terug Johannesburg toe, dan
Boksburg, Benoni, weer Boksburg, Germiston, Midrand, Randburg, en eindig by
Johannesburg. Dan is daar weer 'n tog oor die waters Melbourne toe, terug na
Pretoria, 'n heen-en-weertjie aan Brackenfell in die Kaap, dan 'n besoek aan
'n paar RSA burgers iewers, terug Brackenfell toe, weer 'n paar SA burgers
(is dit die Kapenaars wat so skaam is?) en dan Kaapstad.

Op no 159 spring dit weer AustraliŽ toe, reis kruis en dwars oor die
kontinent (ook na TasmaniŽ) en vertoef geruime tyd daar (en ek verkneukel my
in vanne soos Bootsma, Moerman, Dubbeld, de Boer en Van Namen - vanne wat
mens veel eerder in SA sou verwag het). Daarvandaan word 'n vinnige draai in
Essex VK gemaak en op no 187 kom dit weer in Gangster's Paradise aan. Nou
kom die name so vinnig dat ek skoon uitasem raak - Centurion, Lady Grey,
weer Centurion waar dit bietjie rondhop (seker ook al moeg van al die
geryery), Windhoek, Kimberley, Bloemfontein, Aliwal Noord, terug Oos London
toe (kan die mense daar nie maar klaarmaak nie?), die Strand, weer 'n paar
SA burgers (moet die Kapenaars wees!), Bloemfontein en hop dan Brittanje
toe. Maar wat, die verlange is te sterk en op no 224 kom loer dit weer by
die Van Aswegens in SA (Kapenaars?) in. Dan vlugtig Dubai toe, weer by 'n
paar Kapenaars(?) langs, doen Pretoria en Durban aan en gaan kuier tot no
250 in Swaziland. Uiteindelik kom daar dan 'n paar Kapenaars na vore wat nie
bang is vir hul plek van herkoms nie (toemaar ouens, julle gaan wel weer
eendag die Kerriekoppie wen), Durban, terug Kaaptoe, Johannesburg, en op 265
slaan dit in London uit, maak 'n draai by 'n paar plekke in Surrey Engeland,
vinnig terug Kaaptoe, klim op die Boeing KaliforniŽ toe, terug Pretoria toe,
Steelpoort, weer Pretoria en eindig by my in Mokopane op no 281. Hiervandaan
gaan dit na Bela-Bela, Modimolle, Mookgopong, Kaapstad, Polokwane,
Hartenbos, Pretoria, Leeukrans en Boston onderskeidelik, want ek het half
geheg geraak aan Tess en Monica, sien.

Fassinerend en insiggewend. E-pos het die naelstring van die moderne wÍreld
geword. Waar gaan die 1 000ste ontvanger sit?

As daar een van die lesers is wat toevallig op no 1 000 eindig met 'n e-pos
genaamd "Deleting Jesus' Name...", stuur dit ook na my toe. Ek vrek van
nuuskierigheid om te sien hoe wyd die fyn web van kommunikasie oor die
aardbol gespan is om 1 000 mense met mekaar te kan verbind.

Terug na kiesblad