PIET EN DIE PAJAMADONKIE (Dankie aan JP wat die storie vertel het.):

Terwyl ons gedurende 2008 blomme gekyk het in Namakwaland, het ons die een aand by vriende oornag en het JP die volgende vertel en ek het gedink om dit in my eie woorde weer te gee. In die proses sal ek moontlik nie by al die feite hou nie, maar ek het geoordeel, dat dit so 'n lekker storie is, dat die byvoeg van my eie gedagtes, my vergewe sal word.

Iewers in die Karoo is 'n ou wat 'n motorhawe besit. Kom ons noem hom Piet. Nou, Piet is die hele tyd besig om ouens poetse te bak en dit sonder aansien des persoon. Of dit die dominee se vrou is of die geagte burgemeester, maak nie saak nie. Omdat die dorpie maar klein is, ken almal vir Piet en die meeste van die inwoners het al onder hom deurgeloop. En dis nie net sy eie dorp se mense wat sy poetsbakkery ontgeld nie, selfs ouens in die naburige dorp, kry maar swaar. Hy was byvoorbeeld die een dag in 'n ander dorp en in 'n eetplek het 'n dame gesit en vis en skyfies eet. Hy het ewe, sonder dat hy genooi was, by haar gaan sit en begin om van die skyfies saam te eet. Wat sy alles vir hom gesÍ het, sal ek aan jou verbeelding oorlaat

Hy was eendag by sy besigheid toe daar 'n bakkie stilgehou het. Agter op die bakkie was 'n sebra. Jy weet, die diere wat soos donkies lyk, maar wat vergeet het om die nagklere uit te trek. Die bakkie het relings op gehad, om die nodige te doen, dat die pajamadonkie nie sou afval nie. Oor die relings was 'n seil vas en die seil het van die gery aan die een hoek bietjie los geraak. Die dame wat die bakkie bestuur het, het vir Piet gevra om die seil asseblief vir haar vas te maak en Piet het belowe om die nodige te doen. Hy het nader gestap, die sebra bekyk en toe gedoen wat manne met duur motors (en ander manne met minder duur motors) op die Ben Schoeman, tussen Johannesburg en Pretoria doen, hy het vir die sebra 'n teken met sy vinger gewys. Dit was 'n fout. Jammer dis bietjie sag gestel, dit was 'n groot fout, want die volgende oomblik was daardie vinger aansienlik korter as toe hy na die bakkie aangestap gekom het, want die sebra het met een hap sy vinger afgebyt, sodat die vinger skielik net 'n sentimeter lank (of is dit nou "kort") was. Die afgebyte gedeelte het nie aan 'n velletjie gehang nie, dit was af, soos in morsaf, miskien iewers in die sebra se ingewande.

Piet het besef wat gebeur het en het verder besef dat as iets drasties nie gedoen gaan word nie, is die kans daar dat hy homself gaan doodbloei, want die bloed het met 'n straaltjie uit die stompie gespuit. Hy het sy sakdoek gegryp en om die bloeiende stukkie vinger gedraai. Verder het hy na die petroljoggies geroep, dat hulle hom moet kom help. Hulle het opgekyk, gesien dat hy sy vinger vashou wat in 'n sakdoek toegedraai is en dat daar iets soos bloed geloop het en het verder vermoed dat dit weer een van sy streke was en het hom geÔgnoreer en aangegaan met hulle werk. Praat van "wolf-wolf" speel. Toe hy nie daar hulp kry nie, het hy die kantoor ingestorm en die kantoordame opdrag gegee, dat sy hom dadelik te hulp moet snel. Die reaksie wat hy in die kantoor gekry het, was soortgelyk aan die van die petroljoggies. Sy het opgekyk, geglimlag en aangegaan met haar werk. 

Piet het besef dat sy gepoetsbakkery die tol geŽis het en het verder besef dat hy nou maar self iets moet doen. Gelukkig was sy doktersvriend se spreekamer nie ver van sy motorhawe af nie, en omdat bestuur van 'n voertuig nou so ietswat van 'n probleem sou wees, het hy die afstand sommer afgedraf. Soos wat hy gedraf het, het die bloeddruppels op die sypaadjie bly val, amper soos Hansie en Grietjie se storie van ons kinderdae. By die spreekkamers aangekom het hy die ontvangsdame gevra dat sy asseblief moet help, want 'n sebra het sy vinger afgebyt. Sy het geantwoord: "Dag Piet, ja Piet, goed Piet, sit maar Piet", maar Piet wou nie sit nie, hy wou gehelp word. Omdat sy doktersvriend op daardie oomblik nie iemand in die spreekkamer gehad het nie, het die ontvangsdame toegelaat dat hy mag deurgaan. By die dokter aangekom het Piet dadelik gesÍ dat 'n sebra sy vinger afgebyt het en die dokter het soos die ontvangsdame gereageer met: "Dag Piet, ja Piet, goed Piet, sit maar Piet". Sy doktersvriend het darem ook al onder hom deurgeloop en het vermoed dat dit weer een van sy poetse was en het dadelik oor die Bloubulle se wedstryd van die vorige naweek begin gesels. Alhoewel Piet 'n kwaai Bloubulondersteuner was en graag rugby gekyk en gesels het, het Piet geen, maar geen begeerte gehad om nou rugby te gesels nie. Dis eers toe Piet die sakdoek van sy vinger afruk, dat die bloed opnuut begin spuit het, dat die dokter besef het dat hier regtig 'n probleem is en het dadelik gehelp. Die les uit hierdie verhaal - moenie wolf-wolf speel nie en moenie aan sebra's lelike tekens wys nie.
 

Terug na kiesblad