SKI STORIES - Corinus:

Elsabe de Wet kan uiteindelik ski . Sy kan "snow plough" en stop en draai (soms) ....... en het die val ook bemeester! Met haar laaste grondvatslag het sy die ski-skool se aansig so verander dat die bestuurder haar vriendelik meegedeel het dat sy welkom is om weer te kom kuier, maar dan liewer in die somer sodat sy eerder hulle staproetes kan aandurf!

Die dag op die ski-helling gaan dit heel voorspoedig en sy besluit om 'n laaste keer met die T-stuk wat skiŽrs teen die helling ophelp, boontoe te gaan. Dis egter al laat en sy is haastig om nog een rit in te kry. Dus gaan dit ore in die nek en holderstebolder teen die helling af, hopeloos te 
vinnig. Met die draaislag onder besef sy hier kom probleme. Sy gooi ankers uit en briek vir 'n vale, maar haar remme wil nou nie heeltemal mooi saamwerk nie en daar is niks. Toe sy nou al amper by die draai verby is, sonder 'n beduidenis van 'n draai daar waar dit by haar voete saakmaak, kom die ski-skool se hoekpaal verby en sy gryp daarna soos 'n wafferse Jane (van Tarzan faam) om haar dan maar daarom in die regte rigting te swaai. Het op skool nogal bietjie gimnastiek gedoen en weet dus heeltemal van hoe om om 'n rekstok te swaai en met 'n bollemakiesie of twee af te klim.

Gryp die hoekpaal dus in 'n stewige greep vas (van daardie soort wat net by rofstoeiers, vryers en angsbevange skiŽrs voorkom) en swaai haar swaai. Maar, o wee, die hoekpaal is toe nie 'n ankerhoekpaal nie, maar een wat net effentjies in die los sneeu ingeplant is en daar sleep sy die ding met die hele kanariegeel opblaasheining saam. Toe sy val, toe val sy die heining so drie meter weerskante van haar plat, maar toe pof die ding weer rondom haar op sodat sy nie kan opkom nie.

Dis net voor vier, die ski-skool maak toe, al die instrukteurs hang daar rond, die ouers het hulle kinders kom afhaal en die hotelstoep so 10m van haar af sit vol gaste wat 'n mooi uitsig op die ski-helling en die skool het. Probeer jy nou opstaan tussen 'n opgepofte klomp lug, en dit nog met ski's aan. Soos sy rondkrabbel om bietjie vastigheid onder haar hande te kry sodat sy darem net kan regop sit, stoei die heining terug en wil vervlaks nie saamwerk nie. Dit lyk behoorlik soos 'n klomp jongossies wat verwoed onder 'n reuse kombers woel.

Die gedagte aan hoe dit van buite af moet lyk, laat haar aan die lag gaan sodat sy later nie meer die krag het om eers te probeer regopkom nie, wat nog te sÍ van haar ski's afkry. Uiteindelik kom 'n simpatieke instrukteur haar help soek na haar voete en haal haar ski's af. Nodeloos om te sÍ, sy het dit nie weer aangetrek nie, maar eerder hotel toe gestap.

Elsabe het lig daarvan afgekom. Iemand vertel my anderdag van die vrou wat in Kanada gaan ski het en om begrypbare redes beslis naamloos sal wil bly. Die eerste dag onder instruksie neem die instrukteur hulle een-een teen die helling af, sodat net sy later nog oor is. In die tyd ontwikkel sy 'n nood en na 'n vinnige rondkyk of daar nie miskien nog iemand op die helling is nie, hurk sy net daar met haar skibroek om haar enkels, sonder om te besef wat die warm water aan die sneeu onder haar ski's gaan doen.

Net toe sy mooi klaar is en wil opstaan, begin die ski's vanself teen die helling afgly en om de dood kan sy nie regop kom nie. Daar gaan sy, al 
vinniger teen die helling af, steeds met haar broek om haar enkels. Die windjie van voor af is nogal koelerig en die spulletjie word verder afgekoel deur haar kaal boude wat stamp-stamp teen die sneeu, want die skokbrekers in haar knieŽ het lankal van skrik opgehou werk. Wonder bo wonder bly sy so al hurkende op haar ski's bo en eindig uiteindelik teen die muur van die ski-hut. Enigste ongeval is 'n gebreekte arm, 'n bibberend koue Suidekant vol sneeu en 'n verkreukelde ego met die hoop dat niemand haar teen die helling sien afkom het nie.

Die hotel het 'n dek waar die krankes en oues van dae in die son kan sit en kyk hoe die mense ski. Volgende oggend sit sy ook daar met haar arm in gips. Na 'n rukkie stoot die hotelpersoneel 'n man in 'n rolstoel buitentoe en parkeer hom reg langs haar. Sy been is gebreek en met vroulike nuuskierigheid vra sy daarna uit.

"Jy sal my nou nie glo nie," kom die antwoord. "Gistermiddag is ek hier buite op die ski-helling en die volgende oomblik kom 'n vrou al hurkende en kaalgat hier by my verby geski. Ek gaap die petalje so aan dat ek skoon vergeet om te kyk waar ek gaan en ski toe binne-in 'n boom vas. Maar wat het jou oorgekom?"

Terug na kiesblad