SOENE - Corinus

Ai, daardie eerste keer. Lank voor die tyd word daar moontlik voor die spieŽl geoefen. Die kop dan sus, dan so gedraai. Mond op 'n tuitjie en oogwimpers gefladder vir daardie eerste keer. Daardie eerste SOEN. Gaan hy (want ek kan my nie indink dat seuns voor die spieŽl daarvoor sal oefen nie) sy oŽ oop of toe hou? Wat doen ek met my hande (en o liewe vaderland, hy met syne)? Hou ek my asem daartydens op en loop gevaar om rooi in die gesig en flouerig in die bene te word as dit bietjie langerig duur, of haal ek asem en blaas hom weg met 'n moontlike knoffelgeur? Waar gaan dit gebeur en wat gaan die opbou daartoe wees. Soen ek terug of hou ek my skugter? Hou ek my mond toe, effentjies oop, of heeltemal oop? Wat as die soen onverwags is of dit is 'n piksoentjie terwyl ek gereed is vir 'n volbek een? Hoe kry ek my asem so soet soos die melkasem van 'n babahondjie?

Hy weer is nog meer senuweeagtig. Wat as sy nie wil terugsoen nie of selfs wegruk? Moet hy met die eerste afspraak probeer vir 'n piksoentjie en eers later met 'n volbloed een kom of kan hy sommer van die begin af vir die ware jakob gaan? Van jakob gepraat .... wat as sy liggaam hom tydens die soenery verraai? Wat as sy asem stink? (En dan gaan soek hy natuurlik op sy pa se naskeerrakkie en versuip sy gesig in genoeg Brut sodat selfs 'n rooskwekery in volle blom op 50 meter nie 'n kat se kans teen hom staan nie.) Gaan sy gril vir sy aknee?

Wie onthou nog sy of haar eerste soen? Miskien moet ek eerder vra, wie het sy of haar eerste soen al vergeet? Toe ek bostaande bogrympievoorstel van Madelene lees, het my gedagtes baie jare teruggegaan na omstreeks 1972 en my eie eerste soen. Die besonderhede daaromtrent is beslis nie ter sake nie, behalwe dat ek reeds 32 jaar met die ontvanger daarvan getroud is. En nee, daar is nie vooraf daarvoor geoefen of daarop beplan nie. Dit het sommer net gebeur - spontaan, asof dit die natuurlikse ding was om op daardie stadium te doen.

Daardie eerste soen is egter 'n mynveld op sy eie. Na 'n gedeelde melkskommel en hamburger is hy gretig, maar sy is teensinnig. Later in die spieŽl sit die stuk blaarslaai 'n halwe voortand toe en kan hy verstaan dat sy nie eintlik opgeskeep wou sit met die reste van sy maaltyd in haar mond nie.

Sy is gewillig en stuur al die regte seine uit, maar hy is so steeks soos 'n donkie en wil maar nie. Totdat haar Ouma raadgee."My kindjie, probeer gerus 'n peppermentjie vir die asem."

Hy rook skelm, en besef nie dat selfs die beste Olie Kolonie nie hond haaraf maak met daardie suur rookreuk wat hom omwalm nie. Walglik, sÍ ek julle.

Wat nou as altwee rye treinspore om hul tande het? Anderdag lees ek van die tweetjies wie se goetertjies verstrengel geraak en aan mekaar vasgehaak het. O, die verleentheid toe almal op pad tandarts toe kon sien dat daar GESOEN is, want die twee se monde sit soos 'n Siamese tweeling aan mekaar vas. Daar moes toe nou nog in 'n vol wagkamer gesit word ook totdat die tandarts tyd kon inruim om hul tande van mekaar te skei.

Hoe nou as hy wil wys hy is 'n kragdadige soener en begin terstonds met sy tong in haar mangels vir diamante delf? Byt sy, klap sy of delf sy met entoesiasme terug? Ek weet nie waarom hulle so 'n tonguitruilsoenery en 'n gegrawe na edelgesteentes 'n "French kiss" noem nie, want Frankryk het nie sulke myne nie.

Vorige geslagte het die geleentheid gehad om op hul niggies en nefies te leer vry, sodat hulle geoefen was vir daardie eerste ware soen. Sedert die koms van televisie is dit egter 'n geval van kyk en gaan probeer self (en daardie probeer self se ouderdom raak al hoe jonger).

Net 'n laaste gedagte. Bestaan die "lovebite" soen nog, of het vandag se meisies net meer gekonfyt geraak om daardie weggee rooi opgehewendheid te kamoefleer?