STORMWINDE:

Die volgende vraag is aan Tertuis gevra: 

Soos jy weet is dit die laaste paar dae redelik winderig in ons land. My vraag gaan oor wind. Ek is nie seker nie, maar soos ek verstaan, moet 'n ou jou huis se venters en deure oopmaak as daar 'n stormwind is. Dit sal dan moontlik verhoed dat die huis se dak afwaai. Soos ek dit verstaan, het dit iets met die druk buite die huis en binne die huis te doen. As dit so is, hoe werk die storie.

En hier is die antwoord: 

Binne 'n tornado is daar 'n baie lae lugdruk, vandaar winde wat tot 450 km/h kan waai. Indien so 'n tornado oor 'n huis met toe deure/vensters beweeg, sal die huis letterlik 'ontplof' vanwe die skielike baie groot lugdrukverskil binne die huis (relatief hoog) en die baie lae lugdruk in 'n tornado. 

Vir 'n gewone sterk, aanhoudende wind geld die volgende egter: Geen huis is 100% lugdig nie, dus sal die lugdruk binne die huis min of meer dieselfde wees as dit daarbuite tydens 'n aanhoudende stormwind. Die huis sal dus wel stormwindskade kan opdoen, maar nie 'ontplof' soos by 'n tornado nie. 

Wat egter vir my wel interessant is, is dat die krag van wind om iets te verplaas (of dus die windweerstand ook) nie liner toeneem met toename in windsnelheid nie, maar met die kwadraat van die windsnelheid. Byvoorbeeld: veronderstel dat 'n wind van 100 km/h 'n krag van 20 kg/vk.meter op 'n huis se muur uitoefen. 'n Wind van 200km/h (dus tweemaal so vinnig) sal dus nie 'n krag van 20x2 = 40 kg/vk. meter uitoefen nie, maar wel 2x2 (kwadraat), dus 4 x 20 = 80 kg/vk. meter uitoefen. Daarom vernietig tornado's van 450 plus km/h alles in hul pad. 

Hierdie konsep vind groot toepassing in brandstofbesparing, veral met vandag se duur pryse! 

Gestel ek ry teen 100 km/h op die oop pad en die windweerstand teen die voorkant van my motor is s maar 30 kg. Nou versnel ek tot 120 km/h, dus 1.2 x vinniger (nasionale spoedgrens) - die weerstand raak nou 1.2 x 1.2 x 30 kg, dus 1.44 x 30, dus 43.2 kg, oftewel 44% meer! As ek saam met die ander motoriste wil bly (wat seker gemiddeld so 140 km/h is?) is die windweerstand 1.4 x 1.4 x 30kg = 58.8 kg, dus byna dubbel soveel as teen 100 km/h! 

Deur hierdie beginsel toe te pas, het ek al 15.6 km/liter (6.41 liter/100km) brandstofverbruik met 'n 2.0 liter swaargelaaide sedanmotor oor 'n afstand van 480 km gekry op 'n roete wat ek gereeld ry, met 'n reistyd van SLEGS 30 MINUTE langer! Dit verg egter BAIE selfbeheersing om nie die petrolpedaal weg te trap nie as selfs die klein motortjies so by mens verbyvlieg en hul bestuurders jou so minagtend aankyk...

Terug na kiesblad