NUWEJAAR OP STRANDFONTEIN - deur Andre:

[Met erkenning aan Elna, John en sommer almal wat deur die jare idees in my kop gelos het]

My oorle oompie Doors - Doors Hangbal was sy bynaam - oorle Pa se halfbroer, het my hierdie ene vertel. Glo my, hy was 'n verteller van formaat. Soos hulle in Namakwaland loop staan en sÍ, meester bo-bo meester. Was oompie Doors.

Ek loop en wonder nou nog waarom die ou mense altyd vir almal byname moes loop staan en gee. So amper asof hulle bang was hulle sou met die spulletjie staan en deurmekaar raak. Oompie Doors syne het my jare aan die raai gehad, maar dis 'n storie vir 'n ander dag.

Oorle oompie Doors, soos ek gesÍ het, was oorle Pa se halfbroer. Nou moet julle nie loop staan en dink oorle Oupa Hennerik het loop en wilde hawer saai net waar hy gekom het nie. Was 'n kerkman. Het nie eens daaraan gedink om die eg effe te buig - laat staan nog van breek - toe die engele sy buurman een nag in sy slaap deur die Goue Hekke gedra het nie. Al het daai weduwee met die vol spanspekboesem, perdebylyfie en lekker wegstap soos 'n polisieperd hom male sonder tal erg getempteer! Tuiemaker was hy, maar egbreker? AikŰna!

Nee, oorle oompie Doors was 'n halfbroer oorlat Oupa 'n tweede vrou gevat het nadat eerste Ouma by die buurman anderkant die Goue Hekke aangesluit het. 1918 se Groot Griep het haar kom vat, so word vertel.

Ewenwel, nou loop dwaal ek af van die storie af.

Op 'n mooi dag, so vertel oorle oompie Doors, besluit Oupa Hennerik om bietjie die spannetjie Strandfontein toe te vat vir Nuwejaar. Nou moet julle weet, daai dae was dit nie sommer vir inklim en ry see toe nie. Eselwa met steeks esels start jy nie sommer op en kom daai einste middag weer terug nie. Amper soos die Sondvloed. Maklik 40 dae en 40 nagte se ry van Bitterfontein af en terug, vertel oorle oompie Doors.

Die dag voor Oujaar, dag voor doubreek, is waentjie gepak. Elf spruite, oorle Ouma en Oupa, Karools die navigator, voerjoggie en koudleier inkluis. En eetgoed. Dis hardgekookte eiers, skuinskoek, boerbeskuit, gedroogte boerbokblad, steenbokbiltong, turksvye, gemmerbier, lemoenstroop, hertzoggies, plaatkoek, tuisgebakte soetsuurdeegbrode, koeksisters, Wilson toffies, suurklontjies, appelkoosjam, plaasbotter, blik vol FG koffie, bruinsuiker, boermeel, mieliemeel, die hele spens amper kaal gestroop.

En kooigoed, tente, seile, riempiestoele, ysterkatel vir die oumense, watervaatjie, noodhulpkissie, hooi vir die esels. Lyk skoon soos Isaac
Brodofsky - die Jood - se smouswa. Kort net die hoenders in 'n fuik. Vertel oorle oompie Doors.

"Het ek gesÍ melk ook?" val Oompie homself in die rede. "Dan't ek gelieg. Melk loop staan en raak mos suur. Suur bokmelk is so sleg lat jy dit nie eens vir 'n kind van agteraf met 'n enema kan inkry nie. Nee, oorle Oupa het geglo in vars melk by die koffie. Daai einste tyd laai Oupa sommer 'n grootuier bokooi saam met die kinners op die wa. 'Vars vannie pram af' was oorle Oupa se leuse" gaan die ou voort. So sit en wonder ek by myself hoe so 'n TV-advertensie in nou se dae sou gelyk het. "Vars van die pram af" Sou seker 'n 18[SVLN] beperking gehad het, droom ek stilletjies.

En so, vervat oompie Doors, lat Ouma die kleinspul sing. Hele pad. G'n niks se draadloos en 'tapeplayer' aan boord nie. Sing die kinnertjies "Sien jy hierie pennie, ek het dit gebring. Vir die heidenkinners ennie senneling" en "Laat ons skyn..." KŤrklike mense op die wa.

Dan loop staan en trek Oupa af. Koudleier top die eselenjin op met bietjie water. Ketel af. Klein vuurtjie met dun houtjies. Kooltjie in die ketel om die koffiemoer te laat sak. Kry Oupa sommer direk bietjie melk skuim-skuim in koffiebeker. Stop kromsteel met "Donker Transvaal". Suie aan pyp en tuur doer ver in verste vertes in. Man van min woorde.

"Haak op!" Eselenjin skop in. Eerste eselsrat. Glip sommer verby tweede en derde en draf klop-klop in 'overdrive' aan.

Terug na kiesblad