DIE TAAL WAT ONS SKRYF Corinus

Ek lees dat ene Willem in Hulpnavrae op soek is na 'n jagplek met 'n
besonderse spesifikasie. Sy vereiste is: "... en die wild moet ordentlik
wees."

Nou wonder ek net hoe hierdie ordentlikheid beskryf sou kon word? Sal
dit nou wees dat indien daar misgeskiet word, die wild van skrik nie 'n
windjie moet laat nie en as die skrik nou sommer baie groot was, dat
hulle die toiletrol moet nadertrek? Of miskien moet hulle mooi bo-op 'n
bultjie teen 'n bloedrooi sonsondergang vir die skietslag poseer,
kompleet met strikkie om die horing en wortel in die .... uhm bek? Of as
dit by Vuilbaard en sy trawante kom, dat hulle eers tande borsel en 'n
servet aansit voordat hulle aan Willem en sy maters begin knaag - nadat
daar behoorlik Boekegevat is? Of miskien hul voortplanting diskreet doer
in die bosse gaan beoefen waar preutse jagters nie verkeerde idees sal
kry nie, met die dat selfs cowboys, volgens Hollywood, nou meer mag doen
as net hul perde soen - al het Brokeback Mountain nou nie die Skotskar
gewen nie. Askuus, ou Willem man, maar so 'n lekker dubbelsinnige frase
soebat om bietjie mee sokker gespeel te word.

Diegene van julle wat soggens die grootste Afrikaanse dagblad in die
Noorde se Plus onder hande neem, sou al opgemerk het dat daar een
spesifieke resensent is wat woordsmit speel sodat mens jou hande in
ekstase (of moet dit eerder afgryse wees?) aan die saligheid wil belowe.
Hy is veral doenig in die musieklike omgewing en beskik oor 'n
woordeboek wat enige wynkelder groen van jaloesie sal maak. Julle het
darem seker al van daardie wynbeskrywings gelees wat dit laat klink asof
'n hele groentetuin, 'n vrugteboord of drie, Swede se nasionale gereg,
George Bush se nuutste flater en my oorlede oupa se flentervellies (wat
hy in elk geval nooit gehad het nie) saam in die bottel gegooi is. O ja,
moet nie vergeet van Yskor se staalwerke, die Vaalrivier stroomaf van al
daardie gebarste rioolpype, Namakwalande se vygies, en oumagrootjie se
valstande se oornagwater nie. Wat ek steeds sukkel om te verstaan, is
hoe die fynproewers grassmake in wyn kan eien. Ek meen te sÍ, wie knaag
nou aan sy grasperk of herkou 'n graspol in die veld om met daardie
smake vertroud te wees? SÍ nou net 'n koei het iets anders as melk oor
daardie einste graspol geproduseer net so voor die peuselry daaraan?
Siesa.

Ag nee wat, ek teue maar aan my osbloed, en as hy lekker is, is hy
lekker en as hy onlekker is, drink ek hom maar in elk geval, want van
die tenkskepe vol beweerde wynoorskot kom niks hier by my verbygevaar
nie. Was juis verlede week in die grote Hyperama in Pretoria om my
voorraad bietjie aan te vul, want die winter kom nader en 'n brandende
kaggel voor jou, 'n hond langs jou, 'n kers bokant jou (Eskom forseer
ons mos nou om totaal romanties te raak - wonder net waar hulle al die
babas gaan vang) en 'n glasie binne jou is net die regte medisyne
daarteen. As Mammie nou nog 'n swakte vir die Vier Nefies se RosŤ
ontwikkel het, is dit mos genoeg rede om in hul wynafdeling te gaan
verdwaal terwyl sy inkopies doen. Wat 'n ontnugtering. Wynpryse is oor
die algemeen duurder daar as by hul plaaslike eweknie in, van alle
plekke, Potgietersrus! A nee a!

Kan iemand my asseblief sÍ hoe ek by Potties se "Winkel net om die hoek"
uitgekom het as ek oor iets totaal anders begin skryf het? Ewenwel, lees
ek gister (7 Mrt) weer iets wat die man oor 'n Mozart uitvoering geskryf
het. Nadat ek die HAT, Afrikaanse Woordelys en Spelreels, die laaste
tien Blokkiesraaisel Woordeboeke waarin my allerbeste Beter Helfte belÍ
het, die Bybelkonkordansie en Dopper Joris en sy Seiltjie (Pulvermacher)
geraadpleeg het, kon ek darem uitwerk dat hy so ongeveer, plus minus,
naastenby tevrede was met die uitvoering. Kan iemand my egter help met
wat die man bedoel met: " .. 'n nogal baldadige fluit.." en ".. 'n
soetklinkende en momenteel taai harpklank.."? Net langsaan hierdie
resensie beweer hy weer oor 'n klavieruitvoering: "Daar was refleksie en
in die kringloop van Schumann se prag-melodiese emosies was die poŽtiese
deurgaans boeiend." By nadenke, moet my liewer nie help nie, want net 'n
paar bladsye daarvandaan het 'n ander resensent dit beet oor skilderkuns
en beweer dit: "Vir Pet rs het die werk 'n desperate kwaliteit van die
soeke na niks." Lees hierdie mense werklik eers wat hulle geskryf het
voordat hulle dit indien of leef hulle op 'n totaal ander planeet? As
dit die redakteur van Plus se doel is om Die Kunste eksklusief vir 'n
selektiewe groepie lesers te reserveer, word daar uitmuntend daarin
geslaag. Selfs hardlywigheid in 'n plaassekreet, met so 'n resensie aan
'n spyker teen die muur - om eers te lees en dan te gebruik, gaan nie
genoeg wees om dit meer toeganklik vir ons gewone drommels te maak nie.

Die ATKV, AB, ACSV, DBV, TLU SA, VF, SAVF en al die oud-studente van
Tukkies, Kovsies, Pukke, Stellenbosch en selfs 'n paar stemme uit Soweto
is hard aan die baklei vir die behoud van Afrikaans. Maar mense, begin
sommer by julle plaaslike koerant se resensente met hul onverstaanbare
woorddiaree. (Ek wens veral Stellenbosch se ouens alle sukses toe.
Noudat Nuweland in 'n jukskeiveld omskep gaan word, het hulle 'n ander
verloorsaak om te ondersteun, broodnodig. Vir my arme swaer Wessel se
hart is die huidige Super 14 misoes van die Stormers net een te veel en
moes ons hom Dinsdag uit die hartspesialis se spreekkamers bid. Ek hoop
net hy haal September wanneer Sampie en Juanita-hulle van Matriekafskeid
faam se skets - die knoop gaan deurhaak.)

Mense, let tog maar op na wat julle skryf. Die gebrek aan
spelvaardighede uit die skoolbanke het so omstreeks 1986 die mark getref
- die gevolg van 'n onderwysbesluit wat so 'n twaalf jaar tevore
implementeer is om weg te beweeg van klanke (Sus en Daan en die alewige
'spoilsport' Koeloe wat opsluit moes saam as die tweetjies in die bos
wou gaan loop) na woordherkenning. Wat 'n fiasko, en niemand uit
onderwysgeledere kon nog daardie kloutjie by die oor bring nie. Ek het
dit eensklaps in 'n nuwe jaar se Dienspligtiges agtergekom. Die vorige
jaar se groep kon nog vlot lees, skryf en spel - die volgende groep (en
al die groepe daarna) het 'n opmerklike gebrek aan daardie vaardighede
gehad.

Terug na kiesblad