TANDEMUIS:

In vandag se węreld het alles so "verwęrelds" dat dit moeilik is om kindergelofies lewend te hou, wat so 'n deel is van mens se kleintyd. Kersvader is nie meer Kersvader nie, want kinders het soms tot 5 kerspartytjies met Kersvaders voordat dit regtig Kersfees is - daardie "magic" raak heeltemal verlore tussen al die kunsmatighede. Tog is daar een gelofie wat nogal goed bly staan by die kleintjies: die Tandemuis. Dit is altyd verfrissend om mense se herinneringe uit hulle jeug te hoor oor die Tandemuis en veral wanneer die tandemuis nie so slim is soos hy wil voorgee nie!

My 6-jarige dogtertjie is nou baie woelig met die tande wissel. Volgens die algemene gesprekke in die binne-kringe, is die afleiding gemaak dat Tandemuis deesdae sowat R5 per tand betaal, wat ons toe ook gedoen het met die eerste paar tande. Tot die een dag wat sy by die huis kom met die nuus dat Tandemuis R10 papiergeld betaal het aan haar een maatjie! Toe sy natuurlik haar volgende tand trek, hoop sy toe vreeslik dat Tandemuis nou vir haar ook R10 papiergeld sal gee. Ek noem toe dat alle tandemuise nie altyd dieselfde geld gee nie, want hy het dalk nie op daardie stadium so baie geld nie, toe sę sy vir my: "Ag, 'n tjek sal 'ok orraait' wees!"

Tandemuis moes toe natuurlik daardie selfde aand spesiaal winkel toe gaan om sy R2'e en R5'e te gaan omruil vir R10 papiergeld sodat prinsessie tevrede kan wees! By nadere navraag, blyk dit toe dat die maatjie bietjie skielik was met haar tand wat sy gewissel het en die ma en pa toe net 'n R10 noot in die huis gehad het en dit toe maar moes opdok! En hoe verduidelik jy vir 'n 6-jarige dat dit nie weer gaan gebeur nie? So is die presedent geskep en het die inflasie vir tandebetalings met 100% verhoog!

MY PERSOONLIKE ONDERVINDING MET DIE TANDEMUIS:

Soms is die tandemuis bietjie nalatig met die tande en moet hy meer opdok as wat hy oorsponklik beplan het. Ek was nog klein toe ek een keer iets in die asblik gesoek het (kan regtig nie onthou wat ek daar gemaak het nie!) en toe op my tand afgekom het wat ek die vorige aand gewissel het en nogal geld voor gekry het! Ek was bitterlik ontsteld dat die tandemuis sommer net my tand weggegooi het en daar was nie eers 'n gaatjie in nie. My ma het toe maar einde ten laaste voorgestel dat ek die tand weer in die skoen sit. Die volgende oggend het ek 'n baie mooi "please explain" briefie in my skoen gekry waarin die tandemuis toe vertel dat hy die tand verloor het en so bly is dat ek dit weer in die skoen gesit het, dat hy sommer weer vir my geld gegee het!

'n Ander keer (ek het dalk al iets begin vermoed) het ek besluit om nie vir my ma-hulle te vertel dat ek 'n tand gewissel het nie en het dit skelm in my skoen gesit, net om die volgende oggend steeds die tand in die skoen te sien lę. Ek was baie ontsteld en het toe my misnoeë teenoor my ma uitgespreek. Die tandemuis moes maar daardie aand weer 'n "please explain" briefie stuur en vertel dat hy in 'n ongeluk was en toe nie die tand kon kom haal nie - en het maar meer geld gegee as gewoonlik.

Terug na kiesblad