WERK IN DIE WILDTUIN:

Jacobus is aan die woord:

Jy kry mos mense wat kan stories vertel en dan kry jy mense wat kan lieg in `n storie - so goed lieg dat hy homself later glo. Ons het so 'n spoorbaaninspekteur gehad - en jy moet nou maar self besluit of hierdie `n staaltjie is of groot lieg uit die leeu se bek is ..

Om darem nou die man se naam te beskerm, noem ons hom maar Jan.

Jare gelede het die spoorlyn nog deur die Wildtuin geloop en moes die spoorbaaninspekteur gereeld die lyn inspekteer om te sien of dit in goeie werkende orde is of nie. Nou hier volg Jan se verhaal:

Ek ry die dag op my trollie deur die wildtuin en sien toe mos `n kinkel in die kabel - die spoorlyn wat nie so heeltemal gelyk loop nie, en besluit toe om af te klim en nader ondersoek in te stel. Maar ek is mos nou `n man wat my werk baie ernstig opneem, en terwyl ek baie, verdiep in my werk, so langs die spoorlyn afloop, vergeet ek totaal daarvan dat ek in die Krugerwildtuin loop. Hierdie besef dring eers tot my deur toe ek `n harde brul agter my hoor. Ek kyk om en sien jou waarlikwaar - die mooiste, grootste maanhaar wat ek in my lewe gesien het.

Terwyl ek hom aanstaar kom ek egter agter dat hy nie daar is sodat ek sy skoonheid kan waardeer nie, maar omdat hy honger is. Toe hy op my afstorm, kyk ek vinnig om my rond en besef toe eers dat ek so verdiep in my werk geraak het dat ek heeltemal weg van die trollie geloop het en die ding nie eers meer kan sien nie. My enigste redding is `n boom omtrent 400 meter van daar af. Ek was die skool se spogatleet en kon sommer voel hoe die aarde onder my skeur toe ek met die leeu so op my hakke afsit na die boom toe. Dis ek en die leeu, en die leeu en ek ... en ek hoor weer in my ore hoe die pawiljoene dreun toe ek as jong seun so stof in die ander se ogies geskop het.

Toe ek omtrent so 20 meter van die boom is, sien ek dat daar `n oorhangende tak uitsteek omtrent 4 meter bo die grond. 10 Meter van die boom af besef ek skielik dat sy asem nou baie warm in my nek is en besluit ek om vir die tak te spring. Krannige atleet wat ek nog altyd was, trap ek vas en spring vir die tak - mis dit totaal, maar so met die afkom toe gryp ek dit raak. Die leeu spring op en probeer my voet bykry, maar kon nie so hoog spring nie.

Dit het nie lank geneem om my asem terug te kry nie en ek het toe maar myself gemaklik gemaak en was nie omgekrap oor die honger leeu nie. Wat my wel omgekrap het was toe ek rustig raak en skielik `n harde sis geluid agter my hoor. Toe ek omdraai en teen `n 3 meter lange swart mamba vaskyk, toe verloor ek my humeur, en kyk as ek my humeur verloor kan niemand voor my bly staan nie. Ek haak af met die vuis en slaan die mamba dat hy nou nog piep soos `n kuiken. Ek het maar die ou slangetjie gevat en as sambok gebruik die leeutjie die pakslae van sy lewe gegee. Die leeu is druipstert daar weg en ek kon aangaan met my lewe.

Terug na kiesblad