Worsmaak in die buiteland.

Een van die eerste goed wat jy mis as jy immigreer is so 'n lekker ou stukkie boerewors by die braai, want braai, braai ons, al is dit ook nou in die sneeu! Braai is mos in ons gene ingeteel soos rugby en ek dink braai is seker nommer twee of drie - Die Brannewyn-en bier geen is nommer een!

So het 'n paar van ons saamgespan en ernstig begin worsmaak so oor naweke en dit was nie ongewoon vir ons om 60 of 70 kg boerewors op 'n Saterdag te maak nie. Dit was egter BAIE duur boerewors, want ons moes die speserye van Freddy Hirsch uit SA invoer en dit moes in grootmaat geskied en het die beursies erg geknou. Voordeel van die speserye was dat die wors altyd dieselfde gesmaak het en ons die kwaliteit kon waarborg, maar daar was altyd gebrom oor die prys.

Ons het begin met 'n groot ou vleismeul wat Corrie Joubert uit SA saamgebring het en dit het BAIE draai gekos om 70kg wors deur sy keel te wurg en een Saterdag het alles tot 'n punt gekom toe ons my vrou se vinger saam met die maalvleis deur die wurm wou werk en 'n paar dokters 'n ruk lank besig gehou het om haar vingerpunt weer met die res van die vinger "op te lign"!

Daar en dan het ons besluit dis die keerpunt en dat ons 'n veiliger stopper nodig het wat ook meer vleis op 'n slag kan stop en Corrie loop koop 'n worsstopper wat lyk soos 'n reuse inspuiting op steroids! Dis ook TOE dat ons besluit die wors moet goedkoper gemaak kan word en ons gaan ophou om die speserye in te voer en ons eie mengsels aanmaak met plaaslike speserye en ook 'n reeks verskillende soorte boereworse begin maak.

Ons nooi toe alles wat leef en beef uit om vir ons boereworsresepte te stuur en heel spoedig het ons genoeg resepte om 'n telefoonboek 'n minderwaardigheidskompleks te gee en een Saterdagmiddag trek ons by my huis saam met genoeg vleis en speserye om "meals on wheels" vir 'n maand lank te "run". Een man was ook aangestel om notas te maak van resepte wat werk en opmerkings wat gemaak was oor die respte. Ewe manhaftig het die man ook sy knipbord nader getrek en ek kon sien hy maak twee kolomme - een vir "spesery mengsels" en een vir "opmerkings".

Elke ou het sy gunstelingresep saamgebring en heel gou begin ons mengsels toets en braai en proe en elke stukkie wors word aangejaag met 'n slukkie uit 'n botteljie of glas en ook sommer spoedig blyk dit dat ons 'n paar wen resepte het, maar die aand lÍ nog voor en daar is nog baie resepte wat deurgewerk moet word en ook genoeg voggies om dit mee af te sluk en ons te bemoedig en ons stoei voort.

'n Paar faktore het egter geleidelik begin saamwerk om dinge mooi te beneuk en ek kan nie onthou op watter stadium dinge begin skeef trek het nie, maar ek kan net onthou dat ek agterna gedink het dat enige ou wat sÍ "DRINK en BESTUUR" is gevaarlik het nog nie gehoor van "DRINK en WORSMAAK" nie.

Om te begin het ons 'n skaal gehad wat gelyk GRAMME en ONSE op twee kante van 'n skaal gehad het en oorlat ons nou SO 'n skaal gehad het het ons ook nie daaraan gedink om die respte wat ONSE en PONDE gebruik het na gramme oor te skakel nie en iewers na die vierde of vyfde dop het daar 'n grys gebied tussen ONSE en GRAMME ontstaan en het die manne later die skaal geheel-en-al gewantrou en na die minder betroubare, maar BAIE meer gerieflike mates van handvol, knippie, knypie, skud, half-bottel, glasvol, ens. oorgeslaan!

'n Verdere faktor wat dinge heel in sy dinges gestuur het was die hoeveelheid van verskillende resepte en die feit dat sommige resepte nog half in ENGELS ook was en was 'n rowwe vertaling van ALLSPICE gou na GEMENGDE SPESERYE verander, wat natuurlik 'n heel ander ding is EN anders smaak.

Ek kan onthou dat ek veels te veel stukke wors geproe het wat te min sout en te veel asyn gehad het, maar iemand het later gesÍ dit was nie die asyn wat die wors so suur gemaak het nie, maar die stywe stote Hawkes Bay Chardonnay wat ek by die mix gesit het. Allegeval, baie van die verskillende resepte se smake het by my verby gegaan so vinnig as wat ek dit kon afsluk, MAAR op 'n stadium het ek begin om my gunsteling kruie by te voeg naamlik knoffel en "chilli" oftewel rooirissies.

Nou as 'n man te veel knoffel in 'n wors inwerk dan vrot jy so die vlieŽ vlie so in 'n meter sirkel van jou kop af soos die ringe van Saturnus, maar hulle kom sit nie op jou nie en 'n anner ding van te veel knoffel is dat as dit in jou maag land dan wil dit weer bo uitkom, maar dit verlos jou nie van die reuk nie en as jy te veel rissies insit wil dit weer net direk onder uit sodra dit in jou maag aanland, maar as jy te gelyk te veel knoffel EN te veel rissies insit sit jy met 'n hengse probleem.

Die eerste stuk knoffel wors wat ek nie kon baasraak nie, gooi ek in my hond se bak en hy ruik net daaraan, nies en trek sy neus op, maar raak nie daaraan nie. Die buurman se hongerbrak vreet dit egter gulsig op en ek vervies my vir sy oorlamsgeit en dink ek sal hom 'n les moet leer en gooi 'n groot stuk van die EXTRA HOT Chilli-wors in die bak en toe ek sien my hond ruik net daaraan en knor, toe weet ek die mix is reg! Weer gryp die buurman se brak die wors en raak hom baas met 'n paar happe, maar dit lyk nie of hy enige lastige newe effekte ervaar nie en ek gooi hom nog 'n paar stukke van die ROOI wors en hy werk hulle ook deur die tande en wag vir my om die leŽ bak te "refill" en ek dink so in my enigheid : "blerrie useless wors vir honne, dit brand sewe soorte akkies uit my uit, maar daar is nie eens 'n traan in die hond se oog nie!".

En so het ons nou aangegaan met die wors resepte tot almal tot oor hulle ore geŽet was aan boerewors van ENIGE beskrywing onder die son. Ek kan onthou dat voor ek op die "beanbag" by die TV aan die slaap geraak het dat ek NOOIT ooit weer knoffelwors, kerriewors of chilliwors gaan eet nie, want ek het gevoel soos 'n karbattery wat te lank op 'n "boost charge" gestaan het.

VanweŽ die oormaat knoffel en ander dinge in die resepte het my vrou my vriendelik versoek om tog maar die nag op die "beanbag" deur te bring indien ek enige huweliksprobleme wil voorkom, maar vroeg die volgende oggend het sy my weer jammer gekry (soos gewoonlik) en my met 'n lekker BOEREWORS BREKFIS wakker gemaak, maar toe ek my oŽ oopmaak was boerewors die LAAAASTE ding wat ek wou sien en die badkamer was nog NOOIT so vÍr van die sitkamer soos daardie dag nie. Die badkamer bring egter meer lyding as verlossing en dit voel iemand het 'n petrolbom mooi tussen my kringspiere ingegooi en ek vlug na buite om te kyk of die vars lug nie wil help nie, maar NIKS help nie en ek hol so twee, drie draaie om die huis soos 'n donkie wat terpentyn gesmeer was en ek dink daar was mos NOOIT soveel rissies en kerrie in daai wors nie, maar my agterstewe verskil heftig met my en hou my bene onwillekeurig aan die gang.

So na die tweede rondte om die huis sien ek die buurman se hond wat my wors so gulsig gevreet het is besig met 'n "chariot-race" op hulle gras en hy sleep sy agterstegedeelte so vinnig oor die nat gras dat dit lyk hy loop al sy lewe lank net op so voorbene met sy dinges oppie grond. Het jy al gesien hoe lyk dit as 'n seuntjie sy ou driewiel, waarvan die agterwiele iewers verlore geraak het, met 'n tou sleep, dat die agterstel 'n voor in die grond in ploeg. Dis soos die hond gelyk het, behalwe dat niemand hom met 'n tou gesleep het nie, maar sy voorpote het die werk gedoen. Wyl ek met my eie brand spook begin ek onophoudelik vir die hond lag en my vrou kom kyk wat aangaan en sien die hond waarvoor ek so lag en sy sÍ - "Jy lyk ook self nie so "flash" met die spuitende tuinslang wat agter by jou broek ingedruk is nie!!"

So het ek toe maar my brekfis geniet met die spreier onder die draad tuistoel opgestel om 'n strategiese plek voortdurend van 'n oorverhitting te red.

Later die dag kry ek die knipbord in die hande waarop die "rekordhouer" die resepte en aanmerkings moes aanteken en ek sien die man het nogal sy werk heel goed gedoen - in die begin altans, later is bestanddele soos koljander, basil, tiemie en neut en al daardie tradisionele bestanddele uitgelaat en sien ek dit nie in die opmerkingskolom nie. Opmerkings soos "GEURIG", "AROMATIES", "PIKANT" en "SAPPIG", staan op bladsy 1 en 2, maar op bladsy 4 se onderkant sien ek sy skrif is ook nie meer dieselfde en begin speserymengsels met KNOFFEL, KERRIE en RISSIES sterk prominensie geniet en is die opmerkings nie meer so vleiend nie en eindig hy die opmerking dat die wors redelik na die "drieletterwoord" smaak, NET MET BAIE VUUR.
++++++

Terug na kiesblad